Friday, March 18, 2016

Hashi.. wat?

Dit was die gevoel wat ek gehad het...

            Die hoese watse ding?

Dit was in Julie 2015 dat dinge begin skeefloop het. 'n "Ding" het in my keel begin "groei".
Amper soos wanneer jy hartseer is en 'n knop in die keel kry.

Bewus van hom, maar sodra ek die oggend my Eltroxin-pilletjie (vir onderaktiewe skildklier) 
gedrink het, was dit beter. Ek moet bieg, ek was in die drie maande vooraf effe laks met die pilletjie.... raak nogal moeg vir die elke dag se slukkery.

Maar, hoe later hoe erger. Die knop wou later nie meer sak nie. 
Ek moes sluk-sluk. Soms gewonder of hy my uiteindelik gaan versmoor.

Kort-kort moes ek keel skoonmaak.
Op 'n dag, besef ek, my stem! 
My stem het verander!! 
Wanneer het dit gebeur?

Hierdie "ding" is besig om my menswees te omsingel.
En ek weet 'n paar goed vas en seker.

Ek wéét dit is my skildklier. Ek is immers in 2000 gediagnoseer met onderaktiewe skildklier.
Ek wéét ek vertrou nie 'n gewone dokter met hierdie "ding" nie. Hulle gaan my wil sny, en oor my dooie liggaam, dít gaan ek nie toelaat nie.

So begin 'n soektog na 'n naturopaat of homeopaat wat van skildklier kén. Iemand wat weet wat hy / sy doen.

Op facebook kry ek 'n naam.
Met google kry 'n nommer en adres.
Met 'n gewone foonoproep 
(daar is darem nog dinge wat nie deur die rekenaarskerm gebeur nie) 
kry ek 'n afspraak - my eerste by 'n homeopaat.

12 September 2015.
Ek praat alweer te veel.
Snuif-snuif kort-kort om die 
nasale drup by die "ding" verby te dwing.

'n Lewendige bloedanalise word gedoen.
Ek sien hoe my rooibloedselle aanmekaar klou 
en gans te min spasie vir suurstofoordrag hou.
Ek sien vrye radikale skade op my rooibloedselle.
En klomp ander goete wat ek nie lekker verstaan nie.

Sy voel liggies, vlinderbewegings 
oor die vlinderorgaan in my nek.
Ja, daar is 'n knop aan die regterkant.
Sonar...

          Ek gaan na die hospitaal daar naby.
                               Radiologie.
                                          Patologie - want om te weet moet ons bloed toets.

By radiologie is die uitslag: Hashimoto's Thyroiditis.
My gesig word 'n vraagteken... maar my mond is stil.

Want die radioloog probeer my oortuig om eerder een van hul besondere endokrinoloë te gaan sien. Wat weet 'n homeopaat nou eintlik? Enne, die endokrinoloë het ditse en datse grade...

Swyg, Marelize, swyg.
"Hulle gaan my sny," glip dit uit.

Ag, aarde, nou eers weer 'n hele tirade.... uiteindelik kon ons ontsnap.

Die volgende dag kry ek die oproep - my teenliggaampie telling is hoog (dit moet onder 35 wees, myne is 342). Nie uitermate hoog nie, mense het al lesings van in die 1 000'e gehad. Maar vir my klink dit na 'n gestadigde dood.

Dan weer, is dit nie wat lewe maar in elk geval is nie? Gaan ons nie maar elke dag 'n klein stukkie dood nie? Leef ons nie om uiteindelik te sterf nie? Om dan, eers dan waarlik te mag en kan lééf!!

My medikasie moet bestel word. Sy sal dit aanstuur.

Intussen gaan ons wildtuin toe.
En ek het 'n naam: Hashimoto's

Google werk oortyd.
Ek slaan my hande saam oor wat ek alles lees.
Hoekom het niemand dit gesê nie?
Hoekom verswyg hulle dit?
Of weet hulle eenvoudig nie?

In meer as 90% van alle onderaktiewe skildkliergevalle in die Westerse kultuur, is Hashimoto's die oorsaak van die onderaktiwiteit!

Hoor mooi... Hashimoto's veroorsaak onderaktiewe skildklier.
Dis nie onderaktiewe skildklier wat Hashimoto's veroorsaak nie.

Ek is in 2000 al gediagnoseer... 15 JAAR!!

Hoe lank het ek al Hashimoto's?
Hoeveel skade is al gedoen?

Die vrae maak my gek.
My gedagtes is vir geen oomblik stil nie.

Vakansie gaan hou?
Met al hierdie warrelvrae in my gemoed?

Ons vertrek 2 weke na my diagnose - Punda Mariahek toe.
Ons stop by The Ranch buite Pietersburg vir 'n vinnige ontbyt en draaitjie loop.
Byna in die dorp tref dit my: - My tablet!! Dis in die badkamer by The Ranch.

En die trane stroom vryelik.
Vir die eerste (maar nog lank nie die laaste nie) 
keer breek die spanning my totaal.
Ek huil ontroosbaar.
Ek is so baie bang vir hierdie monster in my.
Hierdie ding wat homself wil opvreet.

My liggaam.
Sy eie teenliggaampies val hom aan.
Die soldate wat my teen vyande, 
teen siektes,
 teen selfs kanker moet beskerm, 
vreet myself op... 
asof ék vyand nommer een is.

Ons draai om, verloor kosbare tyd.
In die badkamer kry ek die skoonmaker. Ja, sy het die tablet na die kantoor geneem. Ek druk haar vas.
Dankie, dankie, dankie.... fluister ek terwyl trane weer van vooraf stroom.

In die kantoor kry ek my tablet, hakkel en stotter verby die knop wat nou dubbel sy grootte is, snik-snik kar toe. Druk 'n noot in die skoonmaker se hand en ons draai weer die kar se neus noord...

Here, wat lê vir my voor op hierdie pad? 
Ek weet, ek het dit nog altyd relatief maklik gehad... 
Ek is bang, Here, so baie bang. 
Stap saam met my, dra my, lei my... 
maar bo alles, help my.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Simptome van Onderaktiewe Skildklier lê ongelooflik wyd.
Die skildklier tas letterlik elke sel in die liggaam aan en beïnvloed alle liggaamsfunksies.
Indien jy enige van hierdie simptome ervaar - laat toets vir Hashimoto's en nie net vir onderaktiewe skildklier nie. (Hulle móét TPO, TgA, T3, T4 en selfs meer toets)

  • onverklaarbare moegheid. Staan moeg op. 
  • Slapeloosheid. Bedags uitgeput, snags wakker
  • Tel gewig op, sonder om eetgewoontes te verander.
  • Kan nie gewig verloor nie, al dieet jy en doen oefening
  • Koue hande, koue voete
  • Uitermate gevoelig vir temperatuur, veral koue. Gooi ekstra komberse oor terwyl ander nog die laken afskop.
  • "Brain Fog" - kan nie konsentreer nie, verloor die draad van die storie, geheue is swak.
  • Rustelose bene, spier- en/of gewrigspyne.
  • Hardlywigheid
  • Pynlike krampe tydens menstruasie
  • Hewige bloeding met menstruasie
  • Meer gereelde menstruasie
  • Chroniese sinus
  • Verlies van buitenste derde van wenkbroue
  • Wonde vat langer om te genees as ander persone s'n 
En dit is maar enkeles.... Hier is 'n hele lange lys (300 +) van simptome

Jy hoef nie aan alles te ly nie.
En meestal het ons almal een of ander tyd een van hierdie goed, maar vir die persoon met onderaktiewe skildklier is dit 'n daaglikse, maandelikse of weeklikse stryd.


Groetnis








1 comment:

  1. Ai vriendin ek voel saam met jou. Sterkte, en drukkie oor die lugweg vir jou.
    Elize vdM

    ReplyDelete